Wednesday, 20 May 2015

Sukkel maak sterk

Ai vanoggend is ek weer moegesukkel met ‘n seuntjie wat nie wil hoor nie... nie wil eet nie... nie wil tandeborsel en aantrek nie... Eks moegepraat moegesukkel
Dan voel ‘n ma se werk sommer ekstra erg.. broodjies en kospakkies moet nog gepak word vir die hele gesin, dis sommer nou baie meer moeite as gewoonlik ...kar laai en kinders skool en ouma toe vat... dan raak dit alles net te veel.

By die werk gekom, en net so baie werk waarmee ek dadelik besig raak... sit ek ingedagte en dink... Pligsgetrouheid... my baas verwag van my ook om alles pligsgetrou te doen, van fotos reg aflaai op die rekenaar en back up... fotos intyd vir kliente stuur en opvolg... rekeninge en admin na die regte persone kanaliseer... Net soos ek van Viktor verwag om pligsgetrou sy takies in die mores self te doen...

Gelukkig word ek nie opgecheck (anders as my seuntjie nie...) nie en voel sommer goed as ek dinge reg en goed afgehandel het. Sterker en beter as vanmore toe ek soos ‘n slegte ma gevoel het... En dankbaar vir my werk... dit gee my 'n nuwe perspektief... en bietjie uitkom kans :)

So keer ek baie vinnig as dinge na my kant toe kom... ek is te bang vir sukkel... en se dadelik nee ek kannie help nie... kannie dit doen nie... het nie tyd nie...
Maar saans vra ek die Here stuur dinge oor my pad wat ek vir U kan doen... hoe kan ek my lig laat skyn vir U... Hoe kan mense U deur my sien...

So vra Bianca ek moet saam haar dieet en haar daagliks help motiveer. Ek se dadelik nee omdat ek borsvoed en nie kan nie... Maar na die tyd besef ek sy soek raad / hulp ‘n vriendin wat saam haar ‘n paadjie kan stap... en ek vertel vanoggend vir haar – ek is in... borsvoedend en al... niks fout met gesond eet – en saam haar aan appels hap & 2 lt water ‘n dag drink nie... kan my net goed doen... sterker maak (en meer sexier vir my man... hahahaaa)

So se ek ook eers nee vir ‘n vriendin wat ‘n challenge voor my gooi... dadelik dink ek nee eks te besig met my kinders in die middae, te veel vryskut werk wat ek saans doen... alweer die tyd faktor wat ek as verskoning gebruik, ek het nie tyd vir reelings tref nie, mense bymekaar kry nie (Am
per soos Jona se storie...)...
En dadelik daarna word ek bewus van al my seeninge... ek het so baie om voor dankbaar te wees... en my kop gaan aan die dink hoe ek hierdie vriendin andersins kan help... Die Here los my nie uit nie, en stuur my engel ma oor my pad... En sonder dat sy weet, stel sy presies DIT voor, waarvoor my vriendin gevra het!!! En ma bied aan om my daarmee te help.
Dadelik verander my ek-kan-nie houding in ‘n lekker opgewonde een... en daar voel ek alweer beter en sterker – ekt die bul sommer gou by die horings gepak en hier is iets aan die kom... watch this space...

Hoe se hul, hoe meer dinge jy het om te doen –hoe meer kan jy doen. (Ekt tot tyd om gou te blog...)
Dis baie waar... en daar lyk my probleme met ‘n hardhorende seuntjie sommer piepklein...


Hierdeur kom ek sterker uit :D


Ek lief my lewe - al is dit hoe besig - dankie Here!!!



Friday, 10 April 2015

...marshmellows vir braai!

Ek ry vanoggend uit Woodlands Lifestyle Estate uit, dis een van die mooiste maar mooiste Estates wat ek nog gesien het... Mansions maar in pophuisie-styl... met die fynste tuine wat met soveel detailtjies uitgele is en natuurlik versorg word...
Ja en mens begeer maklik...

Op die pad, vandaar terug werk toe raak ek so bewus van wat ek het... en die Here wat sê dat ek MEER het as meeste van daardie gesinne wat daar bly... Marius ry voor my uit (ook oppad terug werk toe) ... en ek besef weer hoe goeie man ek het. My man is pa-genoeg vir sy kinders, man-genoeg vir sy vrou... Ons het 2 gesonde en slim seuntjies. ...bogger die klein huisie waarin ek bly... dis net ‘n huis... ons is en het soveel meer as baie ander. Ons het dit (en aanvaar dit as vanselfsprekend) terwyl ander nog daarvoor bid en vertrou.
Dankie Here dat U tog partymaal die skille van my oë afhaal... en dat ek kan sien wat ek so baie male miskyk...

Vanaand gaan ons lekker braai as gesin saam... en ek dink, sodra ek by die werk kom maak ek my inkopie lysie... marinade, slaaigoed, en ...marshmellows-vir-braai...

Naweek hier kom ons... en ons gaan tyd vir mekaar maak en wardeer wat ons het J

Thursday, 9 April 2015

My pomp reise: ...na Jade se kamer...

Ek is so agter met my bloggery, ek dag ek is voor??...
So baie wat ek wou se maar net nooit ‘n rustige kansie vir tik nie… soos wat my “inskrywings” by my opkom – sal ek dit weer neerpen. Daars baie dae net ‘n gedagte wat ek wil afskryf… maar dinge was so rof die laaste ruk… bly dis verby en ons praat weer ander dag daaroor…

Ek melk (alweer) uit, vandag, die keer in die baas se dogter se kamer… okay my werkgewer – hy (Neil) sê net ‘n hond het ‘n baas… (Ons werk van hul huis af, en die garages is omskep in ‘n lekker gesellige studio… )
Gewoonlik melk ek so in Neil en Bianca se kamer…. Awkward ek weet, maar uitmelk moet ek… ek gebruik eerder nie nou die woord “pomp” nie… dit is ook weer ‘n “inskrywingetjie” vir ‘n ander dag
My pomp vat my op reise waar ek nooit eers gedroom het om te gaan nie…

Wel Jade is ‘n pragtige kind, presteer op alle gebiede, sport, kuns en akademie… sy is klaar met Matriek en swot nou … haar pa en ma se model kind…
So sit ek in haar kamer (vinnig myself tuisgemaak saam my pomp op haar bed) en ek facebook op my foon… die melk spuit, asof ek ‘n kraan oopgedraai het… gou gou is die botteltjie vol… 160ml en boobie leeg… soos gewoonlik
Ek sit gou nuwe botteltjie aan my ander kant… (ja my pomp het gebreek en funksioneer vir nou as enkel pomp – tot ons die nuwe part gekry het wat bestel is… ‘n tydsame gesukkel – ek weet!) en let op na alles in Jade se kamer…
WEIRD… ek leef my in dit wat sy op haar muur kwyt geraak het… van manne op die maan wat sy baie mooi geverf het, tot wiskundige berekeninge en wetenskap formules… 


HOEKOM wonder ek… ek was nooit so lief vir Wet. of Wisk nie,… wat nou nog van “swot” dat ek dit op my muur bo my bed sou verf?? Passievol…dink ek…


Daar is ‘n groot raam vol fotos van haar matriekafskeid, sys beeldskoon en net so mooie ou kereltjie ook …die twee is oulik en al lank saam.
Ek buig nou omtrent alle kante toe en loer oor my rug en skouer na die muurkuns agter my… Dan tref die man met die geraamte gesig en die maanpak my… wat de heng… dis vieslik??
Ek skrik behoorlik my melk weg… eeu - kyk ek vorentoe en wonder waaaar die kind daaraan kom??
Verder is haar kamer girly… pienk radio en Kristal-plastiek lampie – vintage kusings op die bed… mooi verder – en vroulik…

…Nou hoor ek net ‘n dowwe geluid… niks melk wat drup-drup nie… Jip my tietie is leeg – daars NIKS verder nie… ‘n skamele 20ml… No WAYS!!!

Ek sit die pomp af… pak op in ‘n japtrap en gee ‘n nare grin na die skedel-man… toe ek uitstap…


Eeeu…





Wednesday, 18 February 2015

My Viktor kind

Ek onthou die terrible two stadium baie goed... dit was 'n "donker tyd" in my lewe... hahahaa ...
Viktor was 'n klein rillertjie...

Wel... toe raak dit beter - lieflike 3's en 4's gehad... jaa af en toe was daar iets wat gepla het maar ons kon dit redelik vinnig uitsorteer... en besig was hy nog altyd, en hoor was maar min, nog altyd... maar ai nou dat die 5's nader kruip voel dit weer asof ek en my kind mekaar iewers mis... Ons irriteer mekaar... Ons kom nie met mekaar oor die weg nie.. ??

Dis regtig so... (klink of ek 'n tiener het)

Hy is verskriklik besig, VERSKRIKLIK besig... dit was NAG die afgelope paar dae... ek en Marius kon dit met tye net nie meer hou nie... verloor dit en skree... Hyt net nie ore nie... ons is moeg om 'n ding oor en oor te herhaal, hyt omtrent nog elke oggend 'n pakslae voor skool gehad... party oggende nog oor dieselfde ding as gister... is ek onsigbaar... hoor hy regtig nie... onthou hy regtig nie?? Is die pad van sy ore tot by sy brein soooo laaaank?? want terwyl jy nog sê neeee, dan het hy dit wat hy nie moes doen nie sommer al 3 keer gedoen...

Hy maak my mal, hy skree soos 'n maer vark sommer vir geen rede... raak laf en hol op en af in die huis, spring soos iets wat gif ingekry het... hys net te wild...

Selfs my ma het baie dankbaar gesug verlede Vrydag toe ons by haar wegry en gesê dankie tog dis naweek sy wil hom asb nie sien vir die hele naweek nie...

Ek eis nou al vir sy selfbeeld... want wat gaan van hom oorbly as ons hom so bly toesnou...

Ons het al alles probeer, min praat en dadelik slaan, ...positief gepraat, hom ordentlik prys vir dit wat hy goed doen, ...en daar is nogal heelwat... baie liefde en aandag gee... hierdie is nie 'n "maar daars skielik 'n nuwe baba in die huis - issue" nie.

Nee arme baba is al 6 maande oud, en hulle 2 is wonderlik saam, Viktor is absoluut versot op sy boetie, hanteer hom (darem) altyd saggies, speel te dierbaar met hom... stoot hom soms in sy stootwaentjie aan die slaap...

Hy kan so oulik wees, die dierbaarste goed kwytraak...
Ek is MAL oor die groot kind van my, ai...

...EN oor my klein baba ...vir nou ...tot hy ook binnekort die terrible two stadium slaaat...


Tuesday, 27 January 2015

Van ou stoele tot nuwe hoofstukke

My baba is nie net n bietjie grootter nie hy is sommer baaaie grootter en swaarder... ons moes di naweek wat verby is ouboet se ou karstoele afstof en was om vir Heino te kan gebruik.
My klein baba lyfie is nou te groot vir sy heel 1e karstoel. Dis die stoeltjie waarmee hy huistoe is vanuit die hospitaal, waarin hy verdrink het daardie 1e maal wat ons hom daarin gesit het en nog 'n foto geneem het. Hyt so knus saam die stoel in sy prêmpie gepas... en mens kon di kappie van die prêm beskermend oor hom toetrek... (was mal oor die idee nog altyd dan kan niemand in die winkels vir baba pla nie)
Dié babastoel is nou weggepak in 'n kas... vir aaaltyd, nooit gaan ons hom ooit weer gebruik ni.

My trane sit vlak... dis vir my baie erg want skielik besef ek hoe groot hy werklik geword het in hierdie kort tydjie (5 mnde), ek sien hom elke dag en dan kom mens nie agter dat hul regtig met so 'n spoed groei ni...

So is dit maar met ons grootmense ook, ons groei stadig maar seker elke dag 'n bietjie hetsy dit nou emosioneel of geestelik of in watter rigting ookal is (ek groei ook in my breedte daagliks as ek nie mooi oppas nie -haha), al is dit deur di kleinste ervaring of uitdagings wat ons dag na dag beleef. Mens kom dit nie elke dag agter nie, maar tog as ek vandag terugkyk na my lewe byvoorbeeld voordat ek kinders gehad het... of vriende van toé en nou, is daar 'n reuse verskil in hoe ek daardie tyd gedink en doen het teenoor nou... ek het baie gegroei en het beslis ook al na 'n grootter stoel beweeg wat dit aanbetref. So is dit ook met my geestelike lewe, dinge wat toé saakgemaak het maak nie nou saak nie. In baie opsigte het ek beslis gegroei en dis maar net met elke dag se bietjie bietjie se groei... en eers wanneer jy stil raak op 'n dag en terugkyk, besef jy dit... en as jy kan terugkyk en jy het in die regte rigting gegroei is dit 'n goeie ding en bring dit jou by die seën en genade van bo wat jy in jou lewe kan gewaar. So besef mens ook mens kan dit nie alleen doen nie, deur elke goeie en slegte ding wat daagliks gebeur het mens God nodig om daardeur te kom, en dus te groei. Ons is mos nie gevrywaar teen slegte goed nie - slegte dinge gebeur ook, maar saam God kom mens daardeur. Ou hoofstukke word afgesluit en nuwes begin, sommige deure gaan toe, nuwes gaan weer oop...

Die volgende more is ons oppad ouma toe en die manier waarop my groot baba weer verdrink in die nuwe groot stoel, sorg vir 'n tipe van 'n opgewonde gevoel in ma se hart... ons is weer by 'n nuwe hoofstuk... Weer neem ek fotos...en ry met trots saam hom (en boetie) rond. Heino kyk nou ook vorentoe in die kar, kry meer aircon as in sy vorige stoel, en ons geniet dit om alles by sy kant van die venster, saam hom te sien en te ervaar...
Mag die volgende hoofstuk net so wonderlik en geseënd wees my liewe 'baba' ...en hopelik stadiger verbygaan as die vorige ene.

 Gebruik lekker boetie se ou stoel, en baie gelukkig

My grootste seun

Dis presies hoe ek voel...

Thursday, 22 January 2015

Pomp kaskenades... oppad PE toe

Ek skryf my melk-pomp-ervaring vanoggend vir Baba en Kleuter tydskrif... aai wat is ma-wees sonder sulke oomblikke darem... dis iets wat ek altyd sal onthou...
 
Pomp kaskenades
 
...en so vat die Rappards die lang pad af PE se kant toe vir 'n see vakansie.
 
Dis 'n gedoente met 'n 4 maande oue baba wat borsmelk uit 'n bottel verkies, so hierdie ma wat eksklusief uitmelk het omtrént 'n "feeding station" agter in die kar, behoorlik gewapen met alles wat nodig is om etenstyd vir baba so gemaklik moontlik, en vir almal verder in die kar, te maak.
 
Maar toe dit vroeg oggend pomptyd is, is die baterye vir my elektriese pomp vergete weggepak in die heel onderste krat onder in die waentjie, wat ons sleep. Ons maak toe 'n Wimpy pitstop, eet ontbyt, pa voer solank vir boetie sy reeds uitgepompde melk, terwyl ma op 'n missie is vir pomp-plek aangesien die garage nie baterye verkoop nie.
Nee jammer, sê die bestuurder in haar kantoor, vergadering kan nog ure neem, so maak ek my pad na die Wimpy kombuis... een van die kelnerinne moes een van 2 dinge sien aankom het, die benoudheid in my oë of was dit my vol paar buuste wat vir Pamela Anderson stof in die oë kon skop?
Sy tref dadelik reelings en neem my deur skarrelende kombuispersoneel (die Wimpy is immers vol gepak met honger klante) na 'n klein koue uitgeteelde gangetjie voor die koelkamers, ...daar tussen staal wasbakke, slaaiblare en uieringe wat my neus en oê bevog, vind ek met my pomp toe verligting. Nie eers die sekuriteitskamera bo in die hoek kon 'n demper op ons oomblik plaas nie. My toppietjie is vinnig toegepluk, ekt in 'n japtrap uitgemelk en ons was vinniger weer op die pad as wat ons ooit sou weet.

Ekt opnuut besef wat Wimpy se slogan "Enjoy every moment" regtig kan beteken!
 
Heino'kie met sy melkbaard na 'n suksesvolle voeding uit 'n bottel, op die pad in sy karstoeltjie.
 
Boetie baie tevrede met sy bottle.
 
 
 
 

Friday, 16 January 2015

Soos ‘n baba in Sy arms...

Het jy al gesien hoe gryp ‘n kleintjie na sy ma se hand en kruip agter haar weg wanneer hy of sy met ‘n vreemde situasie gekonfronteer word?? Dis asof daar eenvoudig ‘n spontane reaksie van skuiling is by mamma met die wete dat dit daar veilig is. Ek het die week met die kinders wat vir eerste kere skooltoe is, die beeld gewaar.

... en so is dit met my ook, ek kry my een oggend met Bybelstudie, waar ek agter God se been staan Hom vasgryp en uitloer...
ek soek skuiling, en bekyk my werk wat al hoe meer instroom... 
skielik begin ek besiger by die werk raak, my vryskut werk gaan ook steeds voort, die Here voorsien steeds – ekt ‘n nuusbrief gekry wat ek nou elke maand sal moet doen vir Annique, nogal ‘n lywige outjie. Ek is dankbaar want ons het redelik baie skuld om terug te betaal na my kraamverlof, ekt tot vandag nog nie ‘n sent van UIF teruggkry nie.

God is goed, Hy sal ons nooit iets gee wat ons nie kan hanteer nie. Al staan ons bang en toekyk. Ons is so gewoond om grootmense te wees... en op ons eie voete te staan. Mag ek gedurig die jaar agter God se “rokspante” wegkruip, en dit sommer my 1e reaksie wees elke keer. Ek verklaar weer kindskap, en wil leer om Sy wegkruip-kind te word.

Ps. 130: 6

Ps. 131: 2

Baba Heino veilig en ontspanne in mamma se arms.

Monday, 12 January 2015

Ons dien 'n lewendige God

So met die nuwe jaar se aanbreek, het ek geweet my kraam verlof is op 'n einde. 'n Nuwe jaar se werkery het voorgelê, met nuwe aanpassings soos gewoonlik, -maar nie soveel soos wanneer jy moet terugkeer werk toe na 5 maande by die huis met baba nie. Daar's nuwe oggend roetines wat wag, 'n nuwe dag-mamma vir baba (in my geval my dierbare ma, waarvoor ek so dankbaar is) en dan die nuwe aanpassings by die werk.
So ekt my jaar heel negatief afgeskop veral na 'n heerlike see vakansie. Die "blues" het my hard getref, so saam die bondels vakansie wasgoed. 
Ek kon dinge gelukkig stappie vir stappie aanpak saam my God en Hy het nie teleurgestel nie.
Alles kom stadig maar seker in plek hier by die werk soos wat die besighede aan die gang kom, en gee my mooi kans om in te "settle"

Ekt leeg voor God gaan staan al vroeg in die jaar, gevoel of ek niks het om Hom te bied nie...my werks omstandighede het baie daarmee te doen gehad.
Ek weet vanoggend Hyt my egter op 'n goeie plek gehad, dolleeg sodat Hy my kon opvul soos Hy wou.
Hy het vir my ingetree - ek werk halfdag... en voel ek het nou die beste van 2 wêrelde, 'n halwe dag van my huis af wat my en my kop sal goed doen, asook 'n halwe dag van my werk af wat my huis en gesin sal goed doen.
Ekt opnuut krag vir beide, my werk en my huis (en gesin).
Geen gespartel om al die balle in die lug te hou nie, soos ek gister genoem het, net net geleef te kry nie..net net kop bo water te hou nie. God het reeds in alle opsigte voorsien.

"Leef die lewe wat jy jou voorgestel het"


...my dagboek sê nie verniet vandag "Gaan met vertroue in die rigting van jou drome. Leef die lewe wat jy jou voorgestel het”

 

So saam die nuwe jaar het mens mos nuwe drome, ek as ma en vrou het baie drome, my eie, drome vir my gesin en vir elke kind aparte drome (en in my geval met baba nuwe drome vir my werksomstandighede, -wat nog met my werkgewer uitgeklaar moet word vandag) Mens weet nie hoe dinge gaan uitwerk nie, maar saam met God weet jy dat dit sal uitwerk... al is dit nie altyd op jou manier nie, maar reg sal dit uitwerk.

 

So ek slaan met vertroue die rigting van my drome in, die jaar, en ek hoop om saam met my God die lewe wat ek my voorstel, te leef. God wil hé mens moet in oorvloed lewe, en volkome blydskap hé... ek wil die jaar nie net cope nie, ek wil nie net net kop bo water hou nie... net oorleef nie (ja met 2 kinders is dit nogal geldelik 'n ding..... ai hiers maar net weer 'n teken dat my geloof kleiner is as 'n mosterd saadjie...maar ek weet ook met my God is alles moontlik)

Ek bid soos my Marne vriendin ook sê Mag Hy my krag gee om myself vir Hom oor te gee (elke dag opnuut), en ek ervaar hoe Hy vir my gaan voorsien (in oorvloed), alle negatief na positief verander, (op Sy tyd en Sy manier.)