Friday, 28 October 2016

Om te date of nie...

Die kinders het sommer net by ons kom bly... een aand...

Jy verstaan? Oornag het alles verander... hulle het hul intrek, behoorlik geneem (in ons huis, maar beslis ook in ons harte – vir aaaaaltyd!)

Die een dag het ons tyd en besittings en geld (én ons medies!) nog aan ons behoort – net die volgende dag toe maak die klein meneertjie/s al die reëls, al ons tyd draai om hulle... ons besittings wel – ja dis NIE okay om op ONS banke en beddens te spring nie!!! ...

Niks was ooit weer dieselfde nie... (so op ‘n goeie manier neh!)

Dankie tog daar was ‘n tyd in my en my man se lewens wat ons mekaar kon date!
Ons het gaan dans, gaan fliek, gaan uiteet, opwindende plekke, vakansies en uitstappies beleef... laat ingekom – en later geslaap die volgende oggend...
Ons het selfsugtig alles opgebruik... ons slaap, ons tyd, en ons geld... alles was ons s’n!!!

Nou ja... nou sê ‘n klomp boeke – wat goed bedoel, ...met ‘n gesonde huwelik, dat jy en jou man, gereelde date-nights moet beplan... soos weekliks...
Sjoh... - gelukkig oorleef ons huwelik dit... ons gaan wel op date nights, maar nie weekliks nie... en ek voel nie skuldig daaroor nie...

Verstaan my reg – ek LOVE om my man te date... en al beplan ons so iets, sien ek vreeslik uit daarna! En enige iets van uiteet, fliek of net by ‘n roadhouse of Mc Donalds Drive-thru, ‘n milkshake te gaan drink – is vir my pure bederf... enige tyd waar net ek en my man tyd saam spandeer is kosbaar! – eintlik ‘n luukse!

Maar vir nou is ons in ‘n ander fase... Die logistieke rondom ons kinders met ‘n date night verg baie fyn beplanning – want sien, die familie maak geen moordkuil van hul harte nie – hul sien nie kans om albei my wille-bokke op een aand, gelyktydig te babysit nie... (en ek neem hul nie kwalik nie) so dus moet ek altyd 2x sitters reel... wat alreeds ‘n uitdaging is...
dis vooraf tassies pak – bederf kosblikkies insit... soms ‘n koekerasie of boksie dankie-sê-bederf vir die ou wat hierdie grooot guns aan my/ons bewys (al is dit bloot net uit skuldgevoel soms??)... daar gaan meer beplanning in as die date night self...
Dan praat ek nie eers van ‘n oorslaap nie...

Elke huwelik vir homself...maar ons huwelik bestaan uit ‘n miljoen “mundane” klein oomblikkies ...ons pak saam die skottelgoedwasser na aandete, en soms die kinders se speelgoed ook... bak saam pannekoek... hang party oggende voor werk saam, ‘n bondel wasgoed op... 10 min. se saam-inlê party dae... vroeg oggend Bybelstudie saam-doen en bid... wat-ookal.
Maar dis my gevoel... hoe meer ons hierdie gewone- saam-oomblikke koester, en die geluk daarin sien – hoe meer waardeer ons ook ‘n behoorlike date-night!


Soos nou-die aand... ‘n werksfunksie saam Marius... maar lekker, by ‘n mooi venue... kerslig, blomme... mooiste dekor en heerlike kos!
Ons moes regmaak, en was laat, dit was kinders organiseer (jy moet weet – hul het gaan uitslaap!)
Ons spring uiteindelik (net ek en my man) in die kar – gereed om effe vinnig by ons bestemming te kom... ek sê vir hom dat hy heel handsome lyk... 
daar is nie tyd vir ‘n behoorlike kiekie nie... so ‘n kar-selfie moes toe maar doen...


Dis lekker om ‘n grootmens te wees, saam te kan eet, ‘n glasie wyn te kan geniet... grootmens dinge te kan gesels...

Gedaan en nog later kom ons by die huis, dankbaar om nét onsself in die bed te kry...

Voor ons kon dink, stap ons na die leë bedjies toe... en ons harte wil breek... ons is onvolledig...

...want,- as daai kindertjies eers by jou kom bly het...

 ...

– is niks ooit weer dieselfde...

(en dit maak jou sommer lus om ‘n gesinsuitstappie te beplan...

Nadat jy ‘n volle nag deurgeslaap het... Natuurlik... saam! ...sonder ‘n klein lyfie wat iewers deur die nag tussen-in kom wurm!)

No comments:

Post a Comment